Bespreking Doelgerigte Lewe

Doelgerigte lewe/Purposedriven life(DGL/PDL) – evangelie of dwaling?

Inleiding
DGL is vir ‘n paar jaar reeds uiters gewilde Bybelstudiemateriaal in gemeentes. Baie gemeentes getuig dat, volgens hulle ervaring, daar groot verandering en godsdienstigheid in hulle gemeentes voortgevloei het uit die gesamentlike bestudering van die boek. Die vraag moet egter gevra word na die soort godsdienstigheid wat hierdie boek teweegbring in gemeentes. Kan met sekerheid aanvaar word dat hierdie godsdiestigheid die gevolg is van die Gees van Christus, of is dit dalk dat die boek ‘n dwaalgeesgodsdiens bewerk soos bv. die geval was in die gemeente in Korinthe? Die Korinthe-gemeente het in Jesus geglo, en was ernstig-godsdienstig tot die punt waar hulle geglo het hulle is eintlik meer godsdienstig as ander gemeentes (1 Kor 5:2). Tog verklaar Paulus dat hulle wat so geroem het op hulle godsdienstigheid, bv op hulle gawes van die Heilige Gees (14:1>), einlik soos kindertjies in die geloof was (3:1>)! Die punt is nie om hier in te gaan oor die probleme in daardie gemeente nie, maar om aan te toon dat ‘n gemeente kan dink dat hulle wonderlik–godsdienstig is, maar hulle maatstawwe is verkeerd, en daarom is hulle selftevedenheid oor die godsdienstigheid van hulle gemeente selfbedrog. Die vraag van hierdie studiestuk is dus nie of DGL help om gemeentes meer godsdienstig te maak nie, maar of die godsdienstigheid wat uit die boek voortvloei werklik die toets van ware Bybelse vroomheid deurstaan…
Gevaarligte brand helder: Skrifgebruik
Warren skryf in die oorspronklike Engelse vertaling:
”I haven’t always quoted the entire verse, but rather focused on the phrase that was appropriate. My model for this is Jesus and how he and the apostles quoted the Old Testament. They often just quoted a phrase to make a point.”(p325)
Dit klink mooi dat hy Jesus as voorbeeld gebruik, maar MAG ons in alles Jesus se voorbeeld probeer naboots? Mag ons bv. Jesus se voorbeeld nadoen deur aan ‘n kruis te gaan sterf vir ander mense se sondes? Die ekstreme voorbeeld toon dat die naboots van Jesus in sekere gevalle, nie net onmoontlik is nie, maar selfs lasterlik is. Ook die apostels se voorbeeld is tov sekere sake nie-nabootsbaar nie. Immers is hulle deur die Heilige Gees op unieke, nie-herhaalbare wyse gelei om die fondament van die kerk van Christus op aarde deur hulle lering te vorm (Ef 2:20). Die Heilige Gees se openbaring aan hulle was op ‘n ander vlak as aan die kerk na hierdie apostoliese era. Warren se stelling aangaande sy Skrifgebruik maak nie erns met die unieke wyse waarop hierdie Bybelskrywers deur die Heilige Gees inspireer is nie. Wanneer hulle die res van die Skrif iewers aanhaal, was dit gedoen onder die besondere leiding van die Heilige Gees. Daarom word net hulle geskrifte erken as die onfeilbare Woord van God. Geen skrywer vandag bevind hom in daardie posisie nie Daarom moet skrywers vandag biddend-sorgvuldig die konteks van elke vers bestudeer voor dit deur die skrywer aangehaal word. So maklik kan die ware bedoeling van die Skrif verdraai word waar hierdie sorgsame proses nie gevolg word nie. Warren se gebruikmaak van die “voorbeeld” van Jesus en die apostels, is dus bloot nie aanvaarbaar nie. Gevolglik maak hy hom skuldig aan ‘n onvrome wyse van Skrifgebruik waar hy dan eintlik bloot die Skrif gebruik om te bevestig wat hy self voel die waarheid is. Die Woord van God word dus nie bedien nie, maar kom eerder in diens van Warren se gedagtes. Voorbeelde hiervan deurspek die hele boek. Hier volg ‘n baie belangrike voorbeeld wat terselftertyd ook reeds iets van sy algemene teologie verbeeld:
P 318-‘God is still looking for people to use. The Bible says, “The eyes of the Lord search the whole earth in order to strengthen those whose hearts are fully committed to Him” Will you be a person God can use for his purpose?’
Met hierdie aanhaling wil Warren mense dus bring om die soekende God te verras deur hulleself kragtig beskikbaar te stel vir God se doel. Te danke aan hierdie vromes word God se doel dan bereik. Warren gebruik dan 2 Kronieke 16:9 as Skrifbewys van SY gedagte. By nadere ondersoek word dit egter duidelik dat Warren se gedagte hoegenaamd nie deur 2 Kronieke 16 bevestig word nie. Warren verdraai die gedeelte heeltemal om in te pas by sy teologie. In 2 Kronieke 16 gaan dit eintlik daaroor dat ‘n sterk vermaning tot koning Asa kom. Asa het op mense eerder as op God begin steun. Asa word dan vermaan om te besef dat die Here mense kragtig steun wat in hulle swakheid op Hom steun. Hier gaan dit dus oor die swak mens en die sterke God. Die paniekerige Asa moet dus sy toevlug tot die sterke God neem. Warren verdraai die gedeelte sodat dit lyk asof dit die vrome mens is wat die hulpbehoewende God as’t ware tot hulp moet kom ... “Will you be a person God can use for his purpose?”
Daar is drie dinge wat hier reeds duidelik word-
1 Warren se aanhaling dien sy argument en nie die ware bedoeling van die Skrif nie.
2 Warren se aanhaling spruit dus voort uit sy behoefte om sy teologiese denke te bewys, eerder as om die Skrif akkuraat weer te gee.
3 Warren kies ‘n vertaling (NLT in die geval) wat aanpas by sy teologie eerder as wat dit die oorspronklike Hebreeus korrek weergee.
Die gevolg van sy onhoudbare Skrifgebruik wat nie erns met die konteks van Skrifgedeeltes en oorspronklike tale maak nie, lei daartoe dat hy soos ‘n goue draad deur sy boek hierdie “afhanklike God-teologie” kan handhaaf wat hy wil verkondig. Later meer oor sy teologie, maar nou reeds is dit gepas om sy teologie te begin vergelyk met die NGK se belydenisskrifte wat die Skrif radikaal anders as Warren interpreteer. Ons Dordtse Leerreels bely geensins ‘n afhanklike God nie, maar leer:
I I. Verder: wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle die dinge van die Gees van God reg verstaan en onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.
12. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, na die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer. (Dordtse Leerreels/DL 3 en 4)
Uit die laaste samevattende sin is dit duidelik dat die mens se daad van gehoorsaamheid die gevolg is van God se werking in die mens. Weens Warren se teologie en Skrifgebruik, is DGL deurspek van sulke verdraaide aanhalings, soos 2 Kronieke 16, wat God se magtige opwegwees met mense heeltemal verwater en God byna hulpbehoewend voorstel. So word die Almagtige wat die klippe kan laat uitroep as Hy wil, se eer aangetas deur opmerkings soos wat Warren maak. Is Hy dan nie die Een wat harte van klip uithaal en harte van vlees gee nie?
Om terug te keer tot sy Skrifgebruik... dit is uit hierdie voorbeeld duidelik dat Warren sy eie doel dien wanneer hy die Skrif aanhaal. Daar is by hom eenvoudig geen erns om reg te doen aan die Skrif self se oorspronklike bedoeling nie. Trouens hy erken self dat dit sy werkswyse is om die Skrif aan te haal “to make a point”! Verdere voorbeelde is dus onnodig om te bevestig wat hy self erken. Die punt van die gebruikte voorbeeld was bloot om aan te toon wat die tragiese gevolg is van Warren se Skrifgebruik, naamlik ’n eiesinnige teologie waar die Skrif Warren se gedagtes moet buikspreuk teen die Skrif se eie bedoeling in. Dit is in die lig van Warren se selferkentenis en met die aangetoonde gevolge daarvan dus verstommend dat gelowiges ENIGSINS verder ’n behoefte het om die boek te bestudeer. Om die koring van die kaf te skei in die boek sal elke Skrifaanhaling van DGL dus eers fyn binne die konteks van die oorspronklike getoets moet word. Neem in ag dat Warren “nearly a thousand quotations from Scripture” maak, dan besef mens die reusetaak om koring van kaf te skei.
Teen Sy Skrifgebruik is daar nog verder ernstige besware in te bring. Daar is reeds vlugtig daarna verwys in die kritiek op sy aanhaal van 2 Kronieke 16. Warren kies telkens om verskillende vertalings van die Bybel in verskillende plekke in DGL aan te haal (vgl p 325). Dis altyd prysenswaardig om verskillende vertalings aan te haal. Soms gee ’n ander vetaling die oorspronklike tale meer akkuraat weer, waar sekere Skrifgedeeltes ondersoek word, as wat die standaardvertaling wat die gelowige normaalweg gebruik dit doen. Die vraag is egter wat Warren se motief vir die gebruik van verskillende vertalings is. Soos aangetoon in die bespreking van sy aanhaling van 2 Kronieke 16, het Warren ’n onaanvaarbare motief om verskillende vertalings te gebruik. Uit Warren se selferkende lukrake aanhaling van die Bybel, is dit duidelik dat sy kies van ’n vertaling nie berus op die vrome doel om die oorspronklike tale meer akkuraat weer te gee nie, maar kies hy die vertaling wat telkens die beste aansluit by sy gedagtes(vgl die bespreking oor 2 Kronieke 16)!
Weereens moet die vraag gevra word: Hoe kan ’n boek wat op so ’n fondament berus, hoegenaamd aantrekkingskrag vir gelowiges inhou? Weereens moet dit gestel word dat die vrome gelowige in die lees van DGL letterlik elke aanhaling en elke verkose vertaling sal moet ondersoek om seker te maak wat Warren se gedagtes is, en wat die werklike bedoeling van God is. Kan daar werklik ware Godsvrug en ware godsdiens uit so ’n boek voortvloei...? In die lig hiervan is verdere bespreking van die boek en die teologie daarvan nie regtig nodig nie, maar vervolgens word tog stilgestaan by verdere nadenke oor die teologie van Warren.
Warren en die mens se doel
Warren skryf: ”...These two statements sum up what this book is all about- God’s five purposes for your life:
1 Love God with all your heart”: You were planned for God’s pleasure, so your purpose is to love God through worship.
2 “Love your neighbour as yourself”: You were shaped for serving, so your purpose is to show love for others through ministry.
3 ”Go and make disciples”: You were made for a mission, so your purpose is to share God’s message through evangelism.
4 “Baptize them into...”: You were formed for God’s family, so your purpose is to identify with his church through fellowship.
5 “teach them to do all things...”: You were created to become like Christ, so your purpose is to grow to maturity through discipleship.
A great commitment to the Great Commandment and the Great Commision will make you a great Christian” (p306)
Verseker kan daar tog nie fout gevind word met Warren se erns om laasgenoemde twee sake as doel vir die mens aan te toon nie. Warren se hele boek is dan ‘n poging om uit te spel hoe die vrome mens hierdie doel moet najaag. Die probleem kom juis hierin na vore. Warren faal klaaglik om die evangelie te snap en ook te besef dat juis dit waarvoor God die mens dan “planned”, “shaped”, “made”, “formed”, “created”, het die mens nie gedoen nie!
In die woorde van ons Belydenisskrifte(BS):
1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor
God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23). (DL 1)
2. Die Kategismus(HK) leer:
Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a)Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk 10:27
Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste
te haat (b).
(a)Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5;
8:21; Jer 17:9; Rom 7:23.
Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
a)Gen 1:31. (b) Gen I:26, 27. (c) Ef 4:24; Kol 3 2 Kor 3:18.
Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys (a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (b).
(a)Gen 3; Rom 5:12, 18, 19. (b) Ps 51:7; Gen 5:3
Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (b).
(a)Gen 8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35; Joh 3:6; Jes 53:6. (b) Joh 3:3, 5;1 Kor 12:3; 2 Kor 3:5.
Duidelik toon ons belydenisskrifte dus aan dat die mens, die doel waarvoor God die mens (volgens Warren} geskep het, nie kon bereik nie, wat onder andere die Groot Gebod insluit. Warren praat glad nie hieroor nie. Warren brei in die eerste 55 bladsye uit oor die mens se doel. Warren haal (soos die Belydenisskrifte) Rom 3:23 aan op p 55 van DGL:
”All have sinned and fall short of the glory of God”.
Warren, anders as die HK, besef egter nie werklik die implikasies van hierdie woorde nie. Waar die HK dan, in aansluiting by die res van die Romeinebrief, pragtig uitbrei oor wat God in Christus aan hierdie hooplose toestand van sy mislukte mense kom doen het, gaan Warren bloot gemaklik voort om te verklaar:
“None of us have given God the full glory he deserves from our lives. This is the worst sin and the biggest mistake we can make. On the other hand, living for God’s glory is the greatest achievement we can accomplish with our lives.”
Ten spyte van sy aanhaal van die Bybel, besef Warren dus hoegenaamd nie die onmoontlikheid daarvan dat die mens hierdie “greatest achievement” kan “accomplish” nie! Warren leer bloot daar waar almal gefaal het, moet ons nou sorg dat ons slaag... ons moet dus net harder probeer. Warren se optimisme oor die vrome mens se pogings en vasberadenheid getuig van ‘n ander teologie as dit wat Paulus in die Romeinebrief leer (vgl Rom 3:21-31 en 5:6-21). Daar praat Paulus oor God se weg met hierdie verlore mense wat so klaaglik gefaal het rakende God se doel. Warren praat egter oor vrome mense wat God se doel met ernstige eie strewe najaag. So vertel Warren verder op p 174-175 hoe God dan vir sulke vromes sit en wag voor Hy reageer:
“The Holy Spirit releases his power the moment you take a step of faith”
Warren leer heeltemal anders as ons BS. Die DL verwerp hierdie idee van Warren dat God wag op die mens se “step of faith”. Kyk gerus na die volgende dwaling wat die DL eers noem, en hoe dan die waarheid geleer word:
9. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die genade en die vrye wil is gedeeltelike oorsake wat altwee saam die begin van die bekering bewerk. Die genade gaan in hierdie volgorde ook nie aan die werking van die wil vooraf nie. Dit wil sê: God help die menslike wil nie kragtig tot bekering voordat die menslike wil nie self in beweging kom en daarop besluit nie.
Die Sinode leer: Die ou kerk het hierdie leer al lankal by die Pelagiane veroordeel kragtens die woorde van die apostel: So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat .barmhartigheid is (Rom 9:16), net so ook: Wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? (1 Kor 4:7), en: Dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2:13).
..en:
NGB Artikel 24 Ons heiligmaking en goeie werke
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees; dat die geloof hom weergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie.
Inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis.
Dit is daarom ook onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van 'n dooie geloof nie, maar van wat die Skrif noem, 'n 'geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan' (Gal 5:6); wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het. Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig, omdat hulle almal deur sy genade geheilig is.”
Die BS praat dus heeltemal ‘n ander taal as Warren, deur te vertel van die blye boodskap dat God met die mens onderweg is. So eer die BS die Almag van God. So ontneem die BS die mens eie roem deur alle vroomheid by die mens toe te skryf aan die grootse dade van God. Die mens kan net ‘n “step of faith” neem as God die mens deur Sy Gees daartoe bring. God beweeg die mens tot aksie. Warren se teologie toon gevaarlike ooreenstemming met die van die Fariseers wat ook oor genade gepraat het, maar eintlik geglo het in hul eie vroomheid. Ook hulle het gefaal om die wonder van God se opwegwees met die verlore, onmagtige mens ten volle te snap.
Daarom sal Warren weinig snap van die inhoudsopgawe van Adrio Konig se boek “Jesus die laaste” waar Konig ook praat oor God se doel met alles. Anders as Warren laat Konig egter die BLYE BOODSKAP weerklink oor God en Sy doel met alles. Daar waar die mens faal, het Christus geslaag. Dit bespreek Konig dan in hoofstukke 3-5 van sy boek wat die volgende insiggewende temas het:
3-Jesus bereik die doel VIR ons
4-Jesus bereik die doel IN ons
5-Jesus bereik die doel MET ons
In Warren se boek word die leer oor Jesus grootliks beperk tot Jesus se voorbeeld en ‘n teoretiese erkenning dat Hy ons Verlosser is. Warren se boek toon geen begrip van dit wat Paulus leer in 1 Kor 1:30-
“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid van God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”
Die Skrif leer van die God uit wie en deur wie en tot wie alle dinge is. Warren faal klaaglik om die oog op hierdie God te rig, en sy boek verval grootliks in alles wat die vrome mens moet doen. Warren se boek adem dus ‘n ander gees as die Skrif. Die Skrif roep gedurig die mens op tot geloofsoptrede vanuit die besef van wie mense in Christus is. Kyk na die volgende voorbeeld-
“Vroeer was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.” (Ef 5:8)
Vgl ook Ef 2:11-13, 14, 15 en Ef 4:22-24. Telkens herhaal Paulus aan hulle op vars maniere wie hulle in Christus is, en vanuit hierdie werlikheid, roep hy hulle om te leef volgens wie hulle in Christus is! Christus het hul verlos, geregverdig en geheilig. Hy het alles volbring wat die mens eintlik moes doen. Christus het die doel vir ons bereik. Die groot probleem met die Fariseers was nie dat hulle nie godsdienstig was nie. Hulle probleem was ook nie dat hulle nie genoeg goeie dade gedoen het nie. Hulle probleem was die manier waarop hulle gedink het oor hulle godsdienstigheid en goeie dade...Hulle het geglo hulle word regverdig deur hulle godsdienstigheid en goeie dade. Daarom het hulle Jesus se regverdigingsdaad verwerp. Hulle vertroue was dus in ‘n wettiese wyse van regverdig word voor God. Net soos hulle nie hulle vertroue in Jesus se daad van regverdiging geplaas het nie, kan mense vandag weier om hulle vertroue in Jesus se daad van heiliging te plaas. Die mens sien dan heiliging as ‘n doel wat die mens self moet bereik asof ons nie in Christus geheilig is voor God nie. Die godsdienstige mens glo dan dat sy godsdienstige dade maak dat hy al meer heilig word. Soos die Fariseers dus in wettiese regverdiging geglo het, glo sulke mense dan vandag in wettiese heiligmaking. Jesus is bloot ‘n voorbeeld vir die mens van hoe heilige optrede moet lyk- Hy is nie vir hulle die Een wat die mens voor God geheilig het nie. So word Jesus weer verwerp deur ernstig-godsdienstiges wat nie op die regte wyse dink oor hulle dade nie! Warren se boek is ‘n uitstekende voorbeeld van hierdie teologie van wettiese heiligmaking wat Jesus se werk verskraal tot blote regverdigmaking van die mens en verder is Hy net ‘n voorbeeld vir die mens. Warren se boek verkondig dus nie die volle Blye Boodskap nie, maar dwaal weg van die wonder van ons Here deur eerder die vrome mens te verkondig. Hy verstaan weinig van die ware geloofslewe. Ons moet GLO en BELY Iemand moes doen wat ons nie kon doen nie! Iemand moes ons velos, regverdig, vryspeek en heilig. Alleen teen die agtergrond en denkwyse kan ons dan begin leef en doen met ware dank in ons harte dat ons nie meer self die doel moet probeer bereik nie. God sit nie vir vrome mense en wag om die doel te bereik nie. God het in Christus die doel vir ons bereik, sal dit in ons bereik, en sal dit met ons bereik. Hy is op weg met ons, en Hy beweeg ons tot aksie deur Sy Woord en Gees.
DGL van nader beskou
Tot dusver in die oorsigtelike beskouing van DGL beskuldig ek Warren daarvan dat hy nie die wonder van Christus verkondig nie. So ‘n oorsigtelike bespreking kan egter ontaard in ‘n wanvoorstelling van die skrywer se werklike teologie. So word die skrywer ‘n onreg aangedoen. Vervolgens word DGL dus van nader beskou en geweeg in die lig van die reeds genoemde kritiek.
Reeds in die eerste hoofstukke word ‘n denkpatroon van die skrywer sigbaar, wat soos ‘n goue lyn deur die boek loop. Onthou deurgaans die reeds genoemde oorsigtelike kritiek. Dit sal al duideliker word dat Warren weinig verstaan van die wonder van dit wat God in en deur Christus moes volbring.
Hoofstuk 1 leer dat die mens nie deur Sielkunde, Filosofie of enigiets anders kan ontdek waaroor die lewe gaan nie. Net God se Woord openbaar waaroor die lewe eintlik gaan. Mooi stel hy dan dat die mens jou doel en identiteit net in ‘n verhouding met Christus ontdek. Sonder God het die lewe geen sin nie.
Hoofstuk 2 wys dan dat God die mens se plek en tyd bepaal, en dat Hy jou gemaak het om jou lief te he(p24). Hy skep alles “custom-made with the exact specifications that make human life possible” (p24) in Sy liefde vir mense. Dit doen God alles met ‘n doel.
Daarom moet die mens sy doel binne God se plan ontdek om sin in sy lewe te kry, leer hoofstuk 3.
Die mens moet snap sy lewe gaan nie net oor hier en nou nie, maar hy is geskape vir die ewigheid, word in hoofstuk 4 aangetoon.
Hoofstuk 5 leer dat die lewe ‘n toets en ‘n verantwoordelikheid is. God vertrou die mens met gawes van intelligensie, verhoudinge, geleenthede ens waarvan ons dan rentmeesters is. Reeds by Gen 1:28 lees ons van hierdie opdrag wat God aan die mens gee. Warren leer dan dat
“...The first job God gave humans was to manage and take care of God’s “stuff” on earth. This role has never been rescinded. It is a part of our purpose today.”(p44)
Warren maak dus eenvoudig die sprong van Adam na vandag, en roep ons op tot nakoming van hierdie verantwoordelikheid waarvoor God ons (soos Adam) oproep. Die gelykenis van die diensknegte word dan deur Warren gebruik om ons te motiveer
“At the end of your life on earth you will be evaluated and rewarded according to how well you handled what God entrusted to you... God promises three rewards in eternity...”(p45)
Warren faal klaaglik om aan te toon hoe Adam misluk het, en wat God aan die mens se mislukking kom doen het. God word mens om dit wat die mens moes doen VIR ons te kom doen(vgl Konig se hoofstukindeling!). Christus volbring ALLES wat Adam en ons moet doen, sodat ons, wat telkens misluk in ons pogings, al meer aan God die dank kan bring dat Jesus alles gedoen het wat ek moet doen. Warren rig dus nie die oog op die blye boodskap nie, maar probeer ons bloot motiveer met die belofte van beloning. Hy snap nie dat ten spyte van al die beloftes van beloning die mensdom nie die eise van die wet van God kon volbring nie. Sy motivering is dus nie vanuit die blye boodskap van Christus nie, maar vanuit die beloning vir ons werke. So gebeur dit dat Warren in die praktyk van die lewe mense se oog nie op die wonder van Christus rig nie, maar op die vrome mens en die beloning as motivering vir jou pogings. Christus word in sy teologie onbewustelik ‘n teoretiese Verlosser wat slegs kennis geneem van word, voordat die vrome mens dan oorneem. Weg is die gerigtheid op Christus waar die mens elke dag leer om in sy mislukking al meer te besef die wonder dat Christus se gehoorsaamheid VIR my as swakke mens was. In plaas van elke dag meer en meer te wil uitjubel oor Christus, verval die mens in ‘n gejaagde strewe om self alles te volbring, agv Warren se teologie.
Dieselfde patroon herhaal homself in hoofstuk 7. Hierdie hoofstuk is ‘n kernhoofstuk in DGL en daarom is dit nodig om noukeurig hier stil te staan.
In hoofstuk 7 leer Warren “The ultimate goal of the universe is to show the glory of God” (p53). Dit is die doel waarvoor God alles gemaak het. “Everything created by God reflects His glory in some way” (p53). Hy verwys dan na Christus: “God’s glory is best seen in Jesus Christ” (p54). Tereg wys hy dan op die tragiese werklikheid dat “In different ways we have all lived for our own glory, not God’s. The Bible says, ‘All have sinned and fall short of the glory of God (Rom 3:23).’ None of us have given God the glory he deserves from our lives” (p55).
Mens sou verwag dat Warren hier sal uitbrei oor dit wat Paulus dan verder in die Romeinebrief leer. Immers is dit ‘n verskriklike openbaring wat Paulus in Romeine 3:23 maak. Paulus begin tog direk na hierdie belaaide stelling om te leer hoe God in en deur Christus die mislukte mens kom verlos en so Sy heerlikheid laat sigbaar word. Mens verwag verder dat Warren sal leer dat hierdie sonde van ALMAL veroorsaak het dat die mens God se vyand geword het (Rom 5:10) en dat Christus die mens met God moes versoen na hierdie gebeure. Dit is immers wat Paulus doen in Romeine 3-12. Paulus vertel van die mens se goddelose toestand en die mens se magteloosheid om die situasie om te keer (5:6). In 5:12-21 brei hy verder uit oor die feit dat die dood oor die mens geheers het en hoe God se genade in Christus gekom het. So juig Paulus oor die blye evangelie van God in Christus. Paulus vertel van God wat Sy genadepad openbaar ten spyte van die mens wat faal om God te verheerlik.
Warren sien egter niks van hierdie dinge in die Woord raak nie. Na sy opmerking dat “none of us have given God the glory he deserves from our lives”, vervolg hy dan doodluiters deur te skryf-
“This is the worst sin and the biggest mistake we can make. On the other hand, living for God’s glory is the greatest achievement we can accomplish with our lives... so it ought to be the supreme goal of our lives.” (p55)
Warren leer dus dat die vrome mens nou bloot moet begin doen wat niemand anders gedoen het of kon doen nie. Dis verstommend dat Warren se teologie telkens in totale gebrek bly om die oog op Christus te rig in situasies waar hy eintlik absoluut nie anders kan as om met die lesers oor Christus te moet praat nie. Soos nou reeds aangetoon herhaal hierdie evangelielose patroon hom deurgaans by Warren en verval hy telkens grootliks in oproepe tot vrome mense om nou godsdienstiger te begin raak. Nie verniet dat Dr A Bogaardts skryf dat in DGL ‘n ander gees as die Gees van Christus lei nie. In DGL is Christus se werk bloot iets om van teoreties kennis te neem voor die vrome mens dan in die middelpunt van die godsdiens te staan kom. Christus is weinig meer as ‘n voorbeeld aan die mens- ‘n voorbeeld wat die vrome mens met sy ywer moet naboots. So vervolg Warren dan in hoofstuk 7 om Jesus as blote voorbeeld aan ons voor te hou wat nageboots moet word-

“Jesus told the Father, ‘I brought glory to you here on earth by doing everything you told me to do.’ (John 17:4) Jesus honored God by fulfilling his purpose on earth. We honor God the same way. When anything in creation fulfills its purpose, it brings glory to God.” (p55)
Warren kan maar net nie begryp die unieke taak van Christus om, in die woorde van Konig, God se doel vir, in en met ons te bereik nie. Vgl ook Warren se simplistiese oproep dat ons eer aan God bring deur soos Christus te word (p56) Daarom is dit ook presies in lyn met sy teologiese denke as hy op p 58 in sy groot bekeringsoproep-oomblik weer teoreties-korrek stel dat die mens in Jesus as Verlosser moet glo en Hom moet aanneem. As jy dit doen,-
“...congratulations! Welcome to the family of God! You are now ready to discover and start living God’s purpose for your life.”
Hier is Jesus bloot die beginpunt op die roete voordat die vrome mens dan met groot fanfare vertrek om te- “start living God’s purpose for your life.” Warren besef nie dat Christus nie net ‘n teoretiese beginpunt op die roete van die vrome mens is nie. Jesus is veel meer...
“ Maar deur Hom(God) is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor 1:30)
Elke dag leef die mens uit die wonder en rus daarvan dat jy in Christus is deur God se genade, en ten spyte van jou onverdienstelikheid.
Die res van die boek ontvou daarom bloot in hierdie teologie van aktivisme, waar nie Christus in die sentrum van die godsdiens staan nie, maar die vrome mens wat vol entoesiasme sy doel begin najaag. Hoofstuk 8 vertel van ’n God wat passief-soekende wag vir ‘n mens wat Hom sal plesier verskaf. Hoofstuk 9 soek Hy na mense wat Hom sal laat glimlag ens. Op p79 leer hy weliswaar van die mens se beperkings, maar soos nou al herhaaldelik aangetoon is, faal hy om te vertel hoe die onvolmaakte mens sy rus in Christus se volmaakte verdienste namens die mens kan vind. Warren se blindheid vir die wonder van God se vrymag om mense diensbaar aan Sy wil te maak, laat hom op 82 verklaar- “God chose Mary... because she was totally surrendered”
Hierdie infame valse stelling is net die uitvloeisel van sy hele skewe teologie.
Op die stadium is dit hopelik duidelik aan die leser dat die patroon van dwaling bloot oor en oor herhaal deur die res van die boek.
Hiermee word dus volstaan sonder dat nog eers by die dwaling oor die doop en ander dergelike sake uitgekom is, wat alles uitvloeisels van sy teologie is.


SAMEVATTING
DGL se onverantwoordelike Skrifgebruik lei tot ‘n teologie waar die blye boodskap van God en Christus se genadepad met die swakke mens vervang word deur ‘n teologie waarin die aktiewe, vrome mens ‘n byna passiewe God moet verheerlik deur jou doel na te jaag. Die beloning van ‘n wagtende, dankbare God en nie die heerlike rus in Christus, en lewe uit Christus se dade, word in DGL grootliks die dryfveer vir die mens se handelinge. Die-grootse-mens-en–die-dankbare-God-teologie vervang die evangelie van Jesus Christus in hierdie boek. Waarskynlik is dit daarom ook die rede waarom die boek by sovele selftevrede godsdienstiges aanklank vind...
Die aard van godsdienstigheid wat dus uit hierdie boek in gemeentes posvat, strook dus geensins met die ware Bybelse vroomheid nie.

Dit sou Warren miskien betaam het om voor hy sy boek geskryf het, eers te besin het oor die woorde van Karl Barth-

“Dit is waar- dit is maar al te waar- dat die mens sy eie weg, die weg van sonde gaan. Maar dit is nog veel meer waar dat God hierdie weg van die mens met hom gaan- dat Hy hierdie weg tot sy eie weg maak: die weg van die menslike rebellie tot die weg van sy triomf, die weg van die verderf tot die weg van redding, die weg van vernietiging van sy orde tot die weg van die herstel daarvan. As dit so is, dan kan die waarheid van die weg van die mens slegs gesien en verstaan word vanuit die groter waarheid van die weg van God met die mens”.
Pieter Prinsloo NG Kerk Kroonstad-Wes